‘n Suiwer seesmaak: Hoe om ‘n kreef voor te berei en te eet

Weskuskreef

Dié bielie van ‘n Weskuskreef hierbo kom van Saldanha. My ouers het nou onlangs soontoe getrek en hulle bly letterlik ‘n paar tree van die see af, by die vlootbasis se private strand. Hemels! Ek het by hulle gaan kuier en ‘n paar krewe uitgeduik (met ‘n lisensie, natuurlik!). Ek is tog te trots op die knewels wat ek uitgehaal het en die koningskos wat ek kon voorsit. In ‘n restuarant sal jy baie duur vir dié smaaksensasie betaal!

Toe ek die foto van dié makker vir mense by my werk gewys het, was ek verbaas om te sien dat baie mense kreef eintlik nie ken nie. Hulle is selfs skrikkerig daarvoor! Daarom wil ek vandag stap-vir-stap op my blog verduidelik hoe ‘n mens ‘n kreef voorberei en eet.

Kreef

Hier het jy nou jou kreef, vars uit die see. Hoe nou gemaak?

As ek só ‘n bielie van ‘n Weskuskreef in die hande kry, bederf ek dit nie met allerhande fieterjasies nie. ‘n Kreef is al klaar sensasioneel op sy eie! ‘n Mens kan dit net gaar maak, die dop oopbreek en die see proe! So eintlik is dit heel maklik om ‘n kreef voor te berei – as jy net weet hoe.

Die kreef word in so 3cm soutwater gekook (of eerder gestoom), in ‘n pot met ‘n deksel op. Die water moet so sout soos seewater gemaak word. Ek voeg gewoonlik ook so ‘n halwe suurlemoen se sap by, vir ekstra smaak. Die water moet eers lekker borrel voordat jy die kreef daarin plaas. Kook dit vir 15min as die kreef vars is of 18min as die kreef gevries was.

As jou kreef klaar gekook is, moet jy die dop oopbreek. Só doen jy dit:

Vat jou kreef met albei hande vas – een hand op die bolyf en een hand op die onderlyf/stert. Trek die bolyf en die stert uitmekaar.

Kreef

Neem nou die kreef se bolyf. Steek jou twee duime binne-in die dop en trek die boonste deel van die dop van die onderste weg.

Kreef

Vat nou die onderste deel van die kreef se bolyf, waar die vleis is. Breek hierdie deel in die helfde. Nou kan jy die vleis makliker bykom om dit uit te eet.

Kreef

‘n Mens kan ook die vleis uit die pote uit eet, maar dit sal seker nou nie in ‘n restaurant gedoen word nie! Ek dink egter die vleis wat in die pote is, is die smaaklikste. Die gesogte deel van die kreef, waarop restaurante fokus, is die groot vleisgedeelte wat in die stert te vinde is.

Só maak jy om dit te bekom:

Neem die stert wat jy van die kreef se bolyf af getrek het. Gebruik ‘n skêr om die stert aan die onderkant oop te knip.

Kreefstert

Hou die dop met jou een hand en duim vas en trek die wit vleis met jou ander hand uit.

Kreef

Daar het jy dit!

Kreefstert

Baie belangrik: Onthou om die aar wat in die middel van die stert afloop te verwyder!

Ek het die kreef op drie verskillende maniere voorgesit: Die eerste een het ek met ‘n groen slaai, tartaresous en suurlemoen bedien. (Een van my volgende uitdagings is juis om my eie tartaresous te maak, maar dit hou ek vir ‘n ander bloginskrywing.)

Kreef

Die tweede het ek met geroosterde groente met basiliepesto en ‘n kaassous voorgesit.

Kreefgereg

Vir die derde dis het ek die die kreefvleis versnipper en in ‘n lekker vars slaai gebruik.

Kreefslaai

Ek gaan verseker nou elke keer wat ek my ouers besoek, terugkom met ‘n nuwe dis, vars uit die see!